DIAMOND CLASSIC AANGEBIED TEN BATE VAN KATJIEPIERING-SKOOL

In Suid-Afrika se huidige benarde ekonomie en gepaardgaande werkloosheid trek almal die gordel stywer. In sommige gevalle is daar egter nie meer ruimte vir besparing nie en dis die onbenydenswaardige posisie waarin die Katjiepiering-kleuterskool in Hermanstad hom bevind.

Derhalwe het die eienaar van die Diamond Classic-fietswedren, Mauritz Meyer, besluit om vanjaar se wedren ten bate van die skool aan te bied.

Die wedren vind op 24 Mei plaas by die Baviaanspoort Korrektiewe Sentrum en bied afstande aan oor 110km en 50km sowel as kinderwedrenne en ‘n pretdraf oor 5km. Vir meer inligting en om in te skryf gaan na www.hecticpromotions.co.za

“Die skooltjie sal elkeen se hartsnare roer.Daar loop ‘n traan as mens die skooltjie besoek en jy sien die pragtige kindertjies wat nie besef in watter omstandighede hul ouers hul bevind nie. Dan word selfs die hardste hart sag,” sê Meyer.

Die staat het in 1979 die Katjiepiering-skool in Hermanstad totstand gebring om om te sien na voorskoolse kindertjies wat onder moeilike omstandighede groot word.

In 2003 het die regering egter besluit om die skooltjie om te skakel na ‘n Artikel 21 maatskappy wat sonder staatshulp sy wonderlike opvoedingswerk moet voortsit.

“Annette Cunniff, wat sedert 2008 die hoof is, vertel verhale wat die trane verder laat vloei. Die voertaal van die kinders is Afrikaans en die meeste kleintjies is wit. As gevolg van die regering se beleid van regstellende aksie is fondse vanaf maatskappye nie maklik beskikbaar nie,” sê Meyer.

In hierdie stadium is daar 61 kinders in die skool. Die meeste van die ouers is finansiëel nie daartoe in staat om skoolgeld te betaal nie en ander betaal slegs ‘n gedeelte. Die kinders ontvang drie maaltye per dag om te verseker dat hulle nie ondervoed is of honger lei nie.

Aldus Meyer is daar is daar weldoeners wat bewus is van die omstandighede en binne hul vermoëns hulp verleen. ““Gelukkig is daar in ons pragtige land nog mense wat omgee en graag uitreik na diegene wat minder bevoorreg is.

“Elke bydra word opreg waardeer maar die fasiliteit se finansies lyk nie goed nie en dit sal ‘n hartseer dag wees as die skooltjie moet sluit omdat die bedryf daarvan nie moontlik is nie.”

Verlede jaar het Hectic Promotions, ‘n nie-winsgewende organisasie wat fietswedrenne aanbied, die skooltjie se dak vervang omdat water gedurende reënseisoen die geboue oorstroom het.

“Die fietsryers het deur hul inskrywingsgelde ‘n bedrag van R100 000 bygedra om die dak te vervang.

“Vanjaar het Hectic Promotions besluit dat ons opnuut die aandag wil vestig op die omstandighede by die skool en om die Tshwane Diamond Classic-fietswedren te gebruik om finansiële verligting vir die skooltjie te bring.

“Die skool se kindertjies sal aangery word na die wedren sodat hulle belangrik voel en ook om met hul teenwoordigheid bewys te lewer dat hulle dankbaar is dat die fietsryers hulle ondersteun.”

Volgens Meyer gaan van die kinders ook deelneem. “Ons het ‘n kinderwedren vir voorskoolse kinders en hulle kan met enigiets ry wat wiele het. Elkeen kry ook ‘n medalje.

“Daar is geen wenners of verloorders nie en dit is vir hulle en die omstanders groot pret. Laerskoolkinders is ook welkom om deel te neem. Die dag bied ook ‘n 5km pretstap/draf, so dis in alle opsigte ‘n familie-uitstappie,” sê Meyer.

Persone wat met die skool in verbinding wil tree kan Annette Cunniff skakel by 012 379 9441 of 082 772 7464 of epos annette@katskool.co.za

Fietsryers wat die skooltjie wil ondersteun kan inskryf op www.hecticpromotions.co.za of kontakLenie Smit by 083 534 7979of e-pos haar by hecticpromotions101@gmail.com

VRYGESTEL DEUR HECTIC PROMOTIONS.

MEDIANAVRAE: 083 269 7659 OF EPOS DEVILLIERSCYCLING@MWEB.CO.ZA

Leave A Comment